In die 99ste bestaansjaar van die Comrades, gaan Nadia Connoway dit die eerste keer aandurf.

                                                                                                            -Daleen Naudé

“Ek het gereken, om nommer 99 en 100 te hardloop, sal spesiaal wees,” sê dié oudleerling van Hoërskool Kanonkop.



FOTO: Nadia Connoway afgeneem net nadat sy die Loskop marathon hierdie jaar voltooi het om te kwalifiseer vir die Comrades.

Die Comrades op 14 Junie is vanjaar ’n opwedloop van 85.777km vanaf Durban na Pietermaritzburg.

Maar hoekom dié uitdagende ultra-marathon?

“Ek het grootgeword langs die Comrades pad om my pa, Paul Bester, te ondersteun en dit was nog altyd op my "bucket list".

Nadia was al in haar skooljare ’n uitblinker in die 1 500m en 3 000m op die atletiekbaan en het graag ook landloop gehardloop. Na skool het sy halfmarathonne (21km) begin doen. “Padhardloop was nog altyd my tyd van kop-skoonmaak.”

 Sy het met die jaarlikse Loskop marathon vanaf Middelburg na Forever Resorts Loskopdam gekwalifiseer vir die Comrades.

Nadia vertel trots dat sy ’n atleet is by haar ouers, Paul en Johanita, se klub, Eskom Atletiekklub Mpumalanga.

*  Nadia het in 2008 gematrikuleer aan Kanonkop.


FOTO: Nadia Connoway toe sy nog ’n nooi Bester was by die skool.

·      Sy onthou dat me. Mara Holtzhausen hul registerjuffrou was vanaf graad 8 tot matriek. “Sy was ook ons atletiek en landloop-afrigter. ‘Aanhouer wen’ het sy my geleer.”



FOTO: In haar graad 10 jaar in die atletiekspan. Heel regs is me. Mara Holtzhausen, wat nie net Nadia se registeronderwyseres was nie, maar ook haar atletiekafrigter.

Me. Adri Muller, haar rekeningkunde onderwyseres staan ook vir haar uit. “Sy het vir my ’n  passie vir die lewe geleer.”

Sy het ook die mooiste herinneringe van me. Chrisitne Steenekamp. “Sy was my hokkie-afrigter en sy het ons geleer dat wanneer jy jou beste gee is dit goed genoeg.”

In die jare wat Nadia daar was, was hulle net sowat 72 matrieks en in total 364 leerlinge. “Dit het ons die geleentheid gebied om aan verskeie sporte en kultuur-items deel te neem. Ons het omtrent almal in die skool geken en dit het soos ’n privaatskool gevoel. Dit was lekker om so by alles betrokke te kon wees. Dit het my geleer om veelsydig te wees en om dinge buite jou gemaksone aan te pak.”

FOTO: Nadia en haar leier “vriendinne” destyds saam afgeneem. Sy onthou net almal se nooiensvanne. Alicia Redelinghuys, Nadia, Lené Hattingh, Nerina Venter, Angelene Lombaard en Elizabeth Marais.

Sy onthou met ’n glimlag dat sy en haar man, Herman, wat hoofseun was in 2005, mekaar daardie jaar leer ken het en dat dit liefde was met die eerste oogopslag.


FOTO: ’n Foto van Nadia en Herman toe hulle net begin uitgaan het in 2005. Sy onthou dat selfone daardie jaar foto’s kon begin neem en het sy en Herman die toetsfoto met ’n selfoon geneem.


FOTO: Nadia is toegelaat om saam met Herman Connoway na sy matriekafskeid toe te gaan in 2005.


FOTO: Nadia was in 2008 mej. Kanonkop!

Albei het later gestudeer aan die NWU in Potchefstroom en daarna huis opgesit in Johannesburg. “Ons het twee miniatuur Schnauzers wat ons eerste kinders was. Hulle is nou al 11 jaar oud!” Die egpaar het drie “besige seuntjies” Leon-Philip (7), Ivahn (5) en Michiel (2).


FOTO: Nadia en Herman Connoway met hul seuntjies Michiel (2) op Nadia se heup, Ivahn (5) en Leon-Philip (7).

Na 11jaar in die onderwys is sy bevoorreg om tans vanaf die huis te werk waar sy help met administratiewe werk by Herman se besigheid.

Sy wil graag vir die leerlinge van Kanonkop hierdie boodskap gee: “Geniet elke oomblik. Dis ’n voorreg om in Kanonkop te wees. In moeilike dae, gaan staan op die pawiljoen en waardeer die mooi uitsig.”

Nadia voel ouers in Middelburg moet absoluut Hoërskool Kanonkop as hoërskool vir hul kinders oorweeg. “Kanonkop se onderwysers gee hulle alles om kinders te help ontwikkel waarvan hulle hou. En die individuele aandag wat die kinders kry is baie voordelig vir akademie!”

·       Nadia se ouers bly nog in Middelburg. Paul is die voorsitter van Eskom Atletiekklub Mpumulanga.  Hy is ook president van Mpumalanga Atletiek. Johanita  dien op die ASA Raad van Suid-Afrika.

·       Haar skoonouers, Leon en Riëtte Connoway, wat ook baie bekend in Middelburg. Dr. Connoway was vir jare die veearts by Oribi- en Kanonkop Diereklinieke. Hulle het na sy aftrede verlede jaar na Johannesburg verhuis waar hulle graag ’n handjie bysit met die kleinkinders.


 


 

 

 

 

 

 

Comments

Popular posts from this blog