Oud Swartleeu Gerhard Swarts se merkwaardige reis

Vir baie mense sou ’n ernstige rugbybesering en rolstoel die einde van hul drome beteken. Vir oud-Swartleeu Gerhard Swarts, wat in 2006 aan Hoërskool Kanonkop gematrikuleer het, was dit egter die begin van ’n merkwaardige reis van deursettingsvermoë, moed en sukses.

Gerhard se lewe het drasties verander toe hy in graad 9 sy nek gebreek het tydens ’n rugbywedstryd teen Hoërskool Dr. Malan van Meyerton.

Tog het hy geweier om hom deur sy omstandighede, ’n lewe in ’n rolstoel, te laat definieer.

“Ek ondersteun nog altyd die underdogs. Ek hou daarvan om by ’n rugbyspan te wees wat as die underdogs beskou word. Wanneer jy so ’n hoë spinale besering het, voel jy self soos die underdog. En die ander teorie is dat jy in elk geval moet slaap en wakker word, so doen iets terwyl jy nog op aarde is.” vertel hy.

“Baie van die mense het my half afgeskryf, en ek het dit as motivering gebruik.”

Hy sê Hoërskool Kanonkop het ’n groot invloed op sy lewe gehad.

Hy onthou veral me. Sanet Griesel (wiskunde) en me. Annetjie Linekamp (wetenskap) as onderwysers wat ’n blywende indruk op hom gemaak het.

Buiten deelname aan die tradisionele revue, was Gerhard na skool ook te sien op die verhoog saam met ander kunstenaars tydens die Kersliedere funksie wat me. Linda Botha aangebied het.


Gerhard Swarts se matriekafskeidfoto soos dit in die Middelburg Observer verskyn het.

Van Kanonkop tot professionele rugby

Gerhard het sy studies aan die Universiteit van Pretoria (Tuks) voltooi. Hoewel sy eie rugbyloopbaan deur sy besering beëindig is, het sy passie vir die spel hom na ’n suksesvolle loopbaan in rugby-afrigting, tegniese ontleding en prestasie-analise gelei.

Hy het oor die jare as tegniese adviseur, video-ontleder en statistikus gewerk vir:

  • Hoërskool Waterkloof  se eerste rugbyspan
Hoërskool Waterkloof het Gerhard genooi vir 'n motiveringspraatjie vir die nuwe leiers.
  • Harlequins Rugbyklub se Carlton Cup-span
  • Tuks se eerste rugbyspan
  • Die Valke se Vodacombeker- en Curriebekerspanne (laasgenoemde het op Loftus gewen)
Die Valke se Curriebekerspan wat op Loftus gewen het.
  • Die Hino Valke se Curriebeker- en Rugby Challenge-spanne
  • Tuks se Varsity Cup-span
  • Die SWD Rugbyunie
  • Hy was ook hoofafrigter van Kiaat-koshuis se o.20-span (wat twee jaar na mekaar die liga gewen het) aan Tuks en het vir verskeie jare spelers en spanne op hoë vlak ontwikkel.
Gerhard was Kiaat koshuis se o.20 afrigter wat twee jaar na mekaar die liga gewen het.
  • Gerhard het self ook rolstoelrugby vir die Tuksklub, asook vir Gauteng gespeel.
Gerhard het self ook rolstoelrugby gespeel vir die Tuksklub.



Onderwyser en mentor

Benewens sy betrokkenheid by rugby, het Gerhard ook sy merk in die onderwys gemaak.

Hy was onder meer Afrikaans-onderwyser by Teneo Online School, assistent-afrigter en tegniese adviseur by Hoërskool Middelburg (wat in 2023 vir HTS Middelburg tydens die Derby gewen het), en is tans onderwyser en hoofafrigter van die eerste rugbyspan by Laerskool Laeveld in Mbombela.


Gerhard saam met Laerskool Laeveld se eerstespan (toerspan).



Gerhard saam met Middies se eerste rugbyspan wat in 2023 vir HTS Middelburg tydens die Derby gewen het.

Raad aan jong Swartleeus

Aan huidige Kanonkop-leerders gee hy eenvoudige maar waardevolle raad:

“Probeer soveel as moontlik ’n balans kry tussen jou kop volg en jou hart.”

Hy glo ook dat Hoërskool Kanonkop oor die jare merkwaardig ontwikkel het.

“Ek weet die skool het ongelooflik verbeter in alle aspekte van ’n goeie hoërskool.”

Gerhard se verhaal bewys dat sukses nie bepaal word deur die uitdagings wat ’n mens in die gesig staar nie, maar deur hoe jy daarop reageer.

Vandag dien hy steeds as mentor, afrigter en inspirasie vir jongmense – ’n oud-Swartleeu wat geweier het om op te gee.

Een van sy vele gunstelingfoto's - saam met Springbokke Oupa Mahoje en Jean de Viliers.

Dr. Henning Gericke (voormalige Springbok-sielkundige) saam met Gerhard.

Gaan kyk gerus na dié kort dokumentêr oor Gerhard se lewe op Youtube:

https://www.youtube.com/watch?v=h2W1e3muXNU 

Comments

Popular posts from this blog