KHS was die grondslag vir Juan se sukses

Toe Juan Swart in 2023 met ses onderskeidings aan Hoërskool Kanonkop gematrikuleer het, het hy reeds die waardes van harde werk, dissipline en integriteit verstaan.


Zelri Wehmeyer, Marené Venter, Juan en Buhle Shabangu kort na hul uitslae in Januarie 2024 in die Middelburg Observer gepubliseer is.


Vandag, skaars drie jaar later, het dié oudleerling reeds verskeie bestuursposte beklee en bou hy steeds voort op die grondslag wat tydens sy skooljare by Kanonkop gelê is.

Juan Swart vandag.

Skool vorm karakter en werksetiek

Juan sê Hoërskool Kanonkop het 'n bepalende rol gespeel in die vorming van sy karakter, waardes en werksetiek. "Die skool het my geleer om tussen reg en verkeerd te onderskei, na uitnemendheid te streef en met integriteit op te tree. Dit is beginsels wat ek vandag steeds in my persoonlike lewe en loopbaan toepas," vertel hy.


Lisere Enslin, Eneri Smith, Xander Barnard en Juan tydens' n pretloop wat hulle 'n stalletjie beman het.


Juan, Jimmy Stonehouse van die Pumas en Xander Barnard toe die Pumas die skool besoek het.


Ná skool het hy op 1 Februarie 2024 sy loopbaan as bestuurder in opleiding by Checkers Middelburg Mall begin. Sy vordering was vinnig.
Op 1 Mei 2024 is hy bevorder tot Back Admin Manager by Checkers Stonehill in Edenvale, Gauteng. Daarna het hy op 1 Oktober 2024 die pos van verkoopsbestuurder by Checkers The Reef in Germiston aanvaar.

Sy opgang in die sakewêreld het voortgeduur en op 1 September 2025 is hy bevorder tot Front Admin Manager by dieselfde tak.

Juan se prestasies het ook erkenning ontvang toe hy in die Oktober/November 2025-uitgawe van die Siyaringa! – Checkers se kommunikasie kletsblad (aanlyntydskrif) verskyn het. Daar is hy vereer as die jongste persoon wat een van die grootste en vinnigste impakte binne die sakeketting gemaak het.

Keerpunt bring hom terug na familie


'n Belangrike keerpunt in sy lewe het egter in 2025 gekom ná die afsterwe van sy oupa, Lourens Wheeler. "Ek het die moeilike, maar betekenisvolle besluit geneem om terug te keer na Middelburg. Hierdie besluit was gegrond op my oortuiging dat familie belangriker is as enige loopbaanprestasie."

Sedert September 2025 is hy die operasionele administrasiebestuurder by Alzu Petroport se Country and Outdoor-winkel.

Juan het ook sy eerste roman, “Voetspore van die Hart” geskryf en is dit pas gebind. Persone wat die boek wil bekom, kan 'n e-pos stuur aan Juan by: juanswart6@gmail.com

Die roman wat Juan geskryf het.

Juan dankbaar vir personeel wat in sy ontwikkeling belê het

Hoewel sy loopbaan vir hom baie belangrik is, sê Juan dat hy nooit die mense vergeet wat in sy ontwikkeling belê het nie.

"Ek is dankbaar vir al die onderwysers wat deel van my skoolloopbaan was. Elkeen het op sy of haar eie manier bygedra tot my akademiese sukses en persoonlike groei."

Hy noem veral me. Salomé van Vuuren (Afrikaans graad 8 en 9), me. Brenda Maré (Engels graad 11 en 12), me. Heleen van der Merwe (Geografie graad10 tot 12), mnr. Erwin Stehring (Verbruikerstudies Graad 10 tot 12), me. Daleen van Jaarsveld (Afrikaans) en me. Alicia Stander (Afrikaans) as onderwysers wat 'n besondere invloed op sy lewe en loopbaan gehad het.

Familie

Juan is die seun van Juanie Wheeler-Swart, 'n misdaadontleder by die polisie se Misdaadintelligensie-eenheid in Middelburg.
Sy pa, Johan Swart, wat in 2015 oorlede is, was die bestuursdirekteur van sy eie mynbesigheid, Ryax Engineering.

Hierdie foto is paar weke gelede geneem. Tania van Greunen (Juan se tannie), Délia Wheeler (sy tannie), Juanie Wheeler-Swart (sy ma), en Juan.


Benut geleenthede

Aan huidige Kanonkop-leerders het hy 'n eenvoudige maar kragtige boodskap: "Benut elke geleentheid wat die skool bied. Werk hard, wees betrokke en moenie bang wees om uitdagings aan te pak nie. Die gewoontes en waardes wat jy op skool ontwikkel, gaan jou vir die res van jou lewe help."

Hy glo ook dat Hoërskool Kanonkop steeds een van die beste keuses vir ouers is. "Hoërskool Kanonkop bied 'n uitstekende balans tussen akademie, sport, kultuur en karakterontwikkeling. Die skool skep geleenthede vir leerders om hul volle potensiaal te bereik en berei hulle goed voor vir die lewe ná skool."

Terwyl Hoërskool Kanonkop vanjaar sy 35ste bestaansjaar vier, is Juan se verhaal een van vele suksesverhale wat getuig van die invloed wat die skool oor meer as drie dekades op jongmense se lewens gehad het.

Vir Juan was Kanonkop nie bloot 'n plek van leer nie, maar die fondament waarop hy sy toekoms kon bou.






Comments

Popular posts from this blog