Kultuurleier, oftewel 'Hip Hop Queen' pure goud op dansverhoog
Hoërskool Kanonkop se eie Kaitlyn Hoft het bewys dat harde werk vrugte afwerp toe sy goud losgedans het by die Dance International-kompetisie in Centurion.
Die kompetisie was Kaitlyn se eerste vir die jaar, en sy het die geleentheid ten volle benut om haar talent op die verhoog te wys.
In die groepitems het hulle in albei goud verower. By Dance International word ’n goue toekenning vir punte tussen 90% en 94% toegeken.
Kaitlyn het boonop ook goud vir haar hip hop-solo ontvang – ’n styl waarin sy só uitblink dat haar ma, Maryke, haar met trots die 'Hip Hop Queen' noem.
Vir Kaitlyn is dans veel meer as net medaljes en toekennings.
“Ek hou van dans omdat dit my toelaat om myself uit te druk sonder om woorde te gebruik. Wanneer ek dans, voel ek vry en selfversekerd. Dit help my om emosies soos vreugde, opgewondenheid en selfs hartseer op ’n kreatiewe manier te wys,” vertel sy.
“Dans gee my ook die geleentheid om nuwe vaardighede te ontwikkel, dissipline te leer en my passie uit te leef. Dit is nie net ’n stokperdjie nie, maar ’n manier waarop ek myself kan wees en met ander mense kan verbind. Bo alles bring dans vir my geluk en laat dit my lewendig voel.”
Kaitlyn is tans in graad 12 aan Hoërskool Kanonkop en speel nie net ’n leidende rol op die dansvloer nie, maar ook binne die skoolgemeenskap.
Sy is kultuur én RCL-voorsitter – ’n bewys van haar sterk leierseienskappe en betrokkenheid by die skool.
Buiten dans speel sy netbal en is betrokke by die landsdiens by die skool.
Hoewel Kaitlyn reeds as kleuter aan Beat Buddies deelgeneem het en vir ’n tyd lank ballet gedoen het, het haar mededingende dansloopbaan op 14-jarige ouderdom begin.
Sy het aanvanklik slegs op hip hop gefokus, maar sy doen ook contemporary/jazz en modern/lyrical.
Vandag slyp sy haar talent by Spotlight SA en werk sy reeds aan haar junior dance teacher-kursus.
Kaitlyn het reeds verskeie pretasies op haar kerfstok.
Sy het al provinsiale en Suid-Afrikaanse kleure verwerf, verskeie eerste plekke behaal en is verlede jaar deur haar dansskool as die Best Overall Dancer aangewys.
Om op topvlak te kan presteer, oefen sy drie keer per week en selfs meer ure voor kompetisies.
* Kaitlyn se ma, Maryke, is net so talentvol! Sy het in 2024 Maximus, Hoërskool Kanonkop se geliefde Swartleeu-gelukbringer, gehekel.
Ma Maryke sê haar dogter doen nie hekel óf naaldwerk nie.
“Dis net dans, dans, dans,” lag sy.


.jpeg)

.jpeg)

Comments
Post a Comment