Eerste onderhoofdogter van Hoërskool Kanonkop vertel ‘n spesiale verhaal
Daleen Naudé
Wie kan nog vir Gerda Fourie, die heel eerste onderhoofdogter van Hoërskool Kanonkop onthou? Vandag is sy Gerda Pringle, die hoof van 'n laerskool en vertel sy trots dat Hoërskool Kanonkop haar voorberei het vir die lewe.
FOTO: Gerda Pringle (voorheen Gerda Fourie).
Gerda se verhaal
Die beginjare
Gerda het in haar graad nege jaar by Hoërskool Kanonkop aangesluit toe die skool amptelik in 1991 begin het. Sy was in graad agt in Hoërskool Middelburg.
"Ons moes nog in ons Middies klere skoolgaan vir 'n hele ruk voordat ons, ons eie skoolklere gekry het. Dit was maar 'n kleurvolle spulletjie, die graad agts van daardie jaar moes in hul laerskool se klere skool toe kom - 'n lekker bont spul." Gerda was in Laerskool Tuinplaas in Limpopo.
Hulle het einde van haar graad sewe jaar verhuis nadat haar pa, Tiaan, ‘n oorplasing na Mpumalanga gekry het. Alles was nuut en daar was nog gedeeltes van die skool wat in aanbou was. Gerda en haar broers het destyds gehelp om die plaveisel te lê vir die aantreeblad. "Ek moes gaan help, al was ek ‘n dogter, want dit was my skool, en my broers was maar nog klein en moes saam, want hulle moes help met hul toekomstige skool."
Dit was dieselfde met die gras plant op die A-rugbyveld. "Ek moes gaan help, my pa het nie gesê ek moet by die huis bly omdat ek nie rugby speel nie. Dit is my skool, ek moet werk! Ons kon nie eintlik groot skenkings aan die skool bekostig nie, maar het altyd ons tyd gegee om te gaan help met enige werk wat nodig was, so op ons baie stil manier."
Eerste matriekgroep
Gerda was dus deel van die heel eerste matriekgroep in die skool se geskiedenis. "Vir my was dit regtig ‘n voorreg. Ek het van ‘n bitter klein laerskool af gekom, ons was maar in totaal 12 graad sewes (ses seuns en ses dogters). Die baie groot skool in graad agt was effe oorweldigend, maar om saam met Kanonkop te kon groei na ‘n groot skool toe, was net ‘n voorreg."
Verkiesing as onderhoofdogter 'n verrassing
Gerda sê sy het glad nie verwag dat sy as onderhoofdogter verkies sou word nie. "Ek het regtig gedink iemand anders gaan dit kry, omdat ek nie daar op skool was en basies in die dorp grootgeword het nie. Ek was ook nie in my oë ‘n kultuurreus of enigsins talentvol in sport nie. Ek het maar net gesorg dat ek altyd my kant bring orals waar die skool my nodig gehad het."
Wou graag leierbaadjies hê
"Ons groep wou so graag ‘n kleurbaadjie gehad het – die skool het nog nie gehad toe ons as leiers aangewys is nie. As ek dit nie mis het nie, was dit ons prefekgroep wat met mnr. Ben de Klerk (destyds onderhoof) gesels en mooi gevra het vir ‘n grys baadjie. Die volgende jaar se leiers was gelukkiger as ons, hul baadjies was betyds."
FOTO: Die eerste leiers van Hoërskool Kanonkop saam met me. Salomé van Vuuren, mnr. Koos Kruger (destydse hoof) en mnr. Ben de Klerk. Gerda staan vierde van regs agter.
Spesiale herinneringe
Sy onthou baie spesiale oomblikke by Kanonkop. "Die een wat nogal vir my mooi was, was ons matriekafskeid. Dink dit is een van die min wat in die skoolsaal gehou is. "Ek het met matriekafskeide grootgeword toe ek in die laerskool was met my ma wat by 'n hoërskool gewerk het. Hulle het ook matriekafskeid op die skoolterrein gehou, so vir my was dit nogal spesiaal."
Onderwysers wat impak op lewe gehad het
"Daar is baie wat ek kan onthou, as mens ouer word onthou jy moes van nature net die mooi. Dié wat ek werklik baie goed en met deernis onthou is mnre. Hans Kruger, Ben de Klerk, me. Carin Grace, me. Carin Wiid, me. Salomé van Vuuren, me. Claasen en me. Linnenkamp."
Self ook in onderwysloopbaan
"Ek wou nooit onderwys swot nie, maar die Here het vir my ander planne gehad en vandag is ek nie een oomblik spyt nie." Sy het haar onderwyskwalifikasies aan die Randse Afrikaanse Universiteit (RAU) behaal. Sy is hoof by Laerskool Eenheid in Modimolle (Nylstroom). Sy sê die naam is nog Afrikaans, maar die skool is nou ‘n Engels medium skool. Die ander laerskool in die dorp, Laerskool Nylstroom, is die Afrikaanse laerskool in die dorp.
KHS se invloed op haar lewe
"Dit is lekker om terug te dink en te besef dat jy deel gehad het aan ‘n groot klompie geskiedenis. Dit laat jou dinge aanpak wat hopelik ‘n verskil in ander se lewe ook kan maak – soos wat die skool in ons lewens gemaak het. "Jy hoef nie altyd jou drome op ander te bou nie, soms is jy die droom in iemand anders se oë. Dit is seker hoekom ek nog altyd voel dat elkeen van ons ‘n baie groter invloed op ander se lewens het as wat ons soms wil erken of voor verantwoordelikheid vat."
Steeds kontak met mekaar
Die 1994-matrieks het die laaste paar jaar weer kontak met mekaar gemaak en is deel van 'n WhatsApp-groep. "Hulle is almal lekker mense – dié wat aangetrou en bygekom het ook!"


.jpeg)
.jpeg)
.jpeg)
Comments
Post a Comment