KHS GEE OM!

Minder as twee weke oor - help om baba Lumieke se hartoperasie moontlik te maak

Oor minder as twee weke, op 13 Julie, verwelkom Hoërskool Kanonkop-oudleerlinge Alex en Johánrie Hall hul dogtertjie, Lumieke.

Terwyl die egpaar saam met hul seuntjies, Zi-Jandré is (6) en Divandré (4), met verwagting die dae aftel om haar te ontmoet, wag daar kort ná haar geboorte 'n groot stryd op die klein dogtertjie.


Johánrie en Alex Hall met hul seuntjies, Zi-Jandré is (6) en Divandré (4).

'n 4D skandering het getoon dat Lumieke met 'n gaatjie, asook 'n gewas in haar hartjie gebore gaan word. 'n Hartoperasie sal verseker dat sy 'n normale lewe sal kan lei.

Die 4D skandering van Lumieke.

Die geskatte koste vir haar geboorte en operasie beloop sowat R400 000.

Hoewel Alex en Johánrie 'n mediese fonds het, is die pediatriese kardioloog wat die operasie moet uitvoer 'n uitgekontrakteerde spesialis, wat beteken dat hulle die mediese uitgawes self sal moet dek.

'n BackaBuddy-fonds is intussen gestig om die gesin te help om die mediese uitgawes te dek.

Tot dusver is net meer as R44 000 deur die fonds ingesamel, en saam met ander skenkings is daar tans ongeveer R60 000 beskikbaar – nog ver van die bedrag wat benodig word.

Johánrie het hierdie week gesê dat dit goed gaan met haar.

"Al wat nou vir ons saak maak, is almal se gebede."

Sy het haar opregte dank uitgespreek teenoor elke persoon wat reeds hul gesin ondersteun het.

"Ons wil familie, vriende, kollegas by Laerskool Uitkyk, asook elke onbekende persoon wat vir ons bid of 'n bydrae gemaak het, uit die diepte van ons harte bedank. Julle liefde en ondersteuning beteken ongelooflik baie vir ons."

Alhoewel die finansiële uitdaging steeds groot is, sê die egpaar dat hul grootste fokus nou is om hul dogtertjie veilig in hul arms te hou.

Lumieke se naam beteken "stralend" en "lig", en haar ouers glo sy gaan hoop bring vir almal wat haar verhaal volg.

Hoërskool Kanonkop wil die Middelburg-gemeenskap én mense regoor Suid-Afrika aanmoedig om die Hall-gesin te ondersteun.

Elke bydrae, hoe klein ook al, bring Lumieke 'n tree nader aan die hartoperasie wat haar die geleentheid bied om 'n normale, gesonde lewe te kan lei.

·      Om tot Lumieke se BackaBuddy-fonds by te dra, gaan op op die onderstaande skakel:

https://www.backabuddy.co.za/campaign/baby-lumieke-hall

Comments

Popular posts from this blog