KHS GEE OM!

Baba Lumieke vorder goed, maar mediese kostes hoop op

Baba Lumieke is gebore! En alhoewel daar nog 'n gewas in haar hartjie ontdek is, het die een gaatjie in haar hart reeds toegegroei!

Klein Lumieke Hall.

Lumieke is op 7 Julie met 'n noodkeisersnee gebore. Sy het 2,785kg geweeg en is 49cm lank.

Haar ouers is Alex en Johánrie Hall, albei oudleerlinge van Hoërskool Kanonkop.

Reeds tydens Johánrie se swangerskap is hulle meegedeel dat Lumieke gaatjies, asook 'n gewas in haar hartjie het.

Intensiewe sorg ná geboorte

Kort ná haar geboorte is sy onmiddellik na die intensiewe sorgeenheid geneem, waar dokters haar vir sewe dae lank intensief gemonitor het. Verskeie toetse, waaronder EKG's, CT- en MRI-skanderings, is gedoen om haar hart en algemene gesondheid deeglik te evalueer.

Lumieke is tuis!

Volgens Johánrie is daar goeie nuus. Lumieke is tuis!

Alex en Johánrie Hall met hul kinders Divandré (4), klein Lumieke en Zi-Jandré (6).

"Dokters is baie tevrede met haar vordering, groei en hoe goed sy doen. Sy is oor die algemeen 'n gesonde babatjie."

Tydens die ondersoeke is vasgestel dat daar meer as een gewas teenwoordig is. Die goeie nuus is egter dat een van die gaatjies in haar hart reeds vanself toegegaan het, terwyl die ander een baie klein is.

"Die dokter is tevrede met hoe goed sy dit akkommodeer," sê Johánrie.

Dokters het nog nie besluit wanneer Lumieke se hartoperasie sal plaasvind nie.

Sy word op 3 Augustus weer in die hospitaal opgeneem vir opvolgtoetse om seker te maak dat sy steeds goed vorder en geen verdere komplikasies ontwikkel nie.

Mediese kostes bly 'n groot uitdaging

Hoewel Lumieke tans soos enige ander gesonde baba van haar ouderdom lyk, bly die finansiële uitdaging vir die Hall-egpaar enorm.

Die gesin wag nog vir die rekening vir haar verblyf in die intensiewe sorgeenheid, terwyl die mediese uitgawes wat hulle reeds self moet betaal, meer as R50 000 beloop.

Die BackaBuddy-fonds wat vroeër gestig is om die gesin te ondersteun, het die afgelope tyd ook min beweging getoon.

Dankbaar vir elke gebed en bydrae

Johánrie sê hulle is egter oorweldig deur die liefde en ondersteuning wat hulle reeds ontvang het.

"Ons waardeer elke bydrae, oproep en boodskap. Ook die kommentare van almal wat sê hulle verstaan waardeur ons gaan. Dit maak hierdie pad vir ons al klaar baie makliker."

Hoërskool Kanonkop doen weer 'n beroep op die Middelburg-gemeenskap en mense regoor die land om die Hall-gesin te ondersteun. Elke bydrae, hoe klein ook al, bring hulle 'n tree nader daaraan om Lumieke die beste moontlike mediese sorg te gee en haar die kans op 'n gesonde toekoms te bied.

Om 'n bydrae vir die BackaBuddy fonds te maak, gaan in op hierdie skakel:




Comments

Popular posts from this blog