'N VRIENDSKAP WAT DIE TOETS VAN TYD DEURSTAAN
Van Swartleeu skakelpaar tot teenstanders langs die rugbyveld
Twee oudleerlinge van Hoërskool Kanonkop, wat reeds van hul laerskooldae af vriende is, het jare gelede saam rugby gespeel en staan nou as afrigters weerskante van die rugbyveld!
Eduan van den
Heever (nou ’n onderwyser aan
Hoërskool Durbanville) en Werner Botha
(onderwyser by SACS - South African College Schools) in Kaapstad is beide
afrigters van hul skole se o.15A rugbyspanne.
![]() |
| Werner Botha en Eduan van den Heever. |
Vriende van kindsbeen af
Die vriendskap tussen Eduan en Werner strek
terug vanaf hul laerskooldae tot by Hoërskool Kanonkop, waar hulle in 2006
matriek geskryf het. Vandaar het hulle ook saam by die Pukke (Noordwes
Universiteit) gaan studeer.
Hul loopbane het hulle later weer by skole
uitgebring, met Eduan wat tans IGO by Hoërskool Durbanville aanbied en Werner
wat Afrikaans by SACS onderrig.
Volgens Eduan het hul vriendskap reeds in hul
skooljare sterk wortels geskiet.
“Ons is sedert graad een vriende.”
Herinneringe
’n Besondere herinnering uit hul kinderdae is
hoe Werner se ma, Linda, hom gereeld ná skool langs die pad opgelaai en huis
toe geneem het.
Op die rugbyveld het hulle ’n suksesvolle skakelpaar
gevorm.
“Ek het skrumskakel gespeel en Werner
losskakel. Hierdie samewerking op die rugbyveld het verder bygedra tot die
ontwikkeling van ons spanwerk, wedersydse vertroue en langdurige vriendskap,”
sê Eduan.
Vriendskap bly sterk
Hoewel hulle deesdae aan weerskante van die
afrigtingsveld staan, bly die vriendskap sterk.
Dit is reeds die tweede opeenvolgende jaar
dat hul o.15A-spanne teen mekaar speel.
“In albei jare was dit uiters
naelbytwedstryde, maar ek kan met trots meld dat my span in beide gevalle as
oorwinnaars uit die stryd getree het,” sê Eduan laggend.
Hy voeg by dat hulle reeds tydens hul
universiteitsjare die droom gehad het om eendag as afrigters teen mekaar mee te
ding.
“Ons beskou dit as ’n besondere voorreg dat
ons hierdie droom vandag kan uitleef.”
Invloed van KHS
Werner stem saam dat hul skooljare ’n groot
invloed op hul lewens gehad het.
“Ek dink die grootste invloed was dat ons ’n
hegte groep was en dit het natuurlik gelei dat ons steeds vriende is. Dit was
’n skool waar elkeen ’n plek gehad het. Daar was geleentheid om sport, kultuur
en ander aktiwiteite te doen.”
Benewens rugby het die twee ook hul kreatiewe
kant ontwikkel en was hulle vir vier jaar deel van Hoërskool Kanonkop se
revuegroep.
Vir Eduan het verskeie onderwysers ’n
bepalende rol gespeel in sy lewe en uiteindelike beroepskeuse.
“Onderwysers soos Sanet Griesel, Petrea van
den Heever, Lizby Hadland, Wimpie van der Westhuizen, Nico van der Berg, Gert
van Eden, Kobie Botha, Patat Pieterse, Pieter de Lange en Carien Grace het ’n
groot rol gespeel in die vorming van wie ek vandag is. Hulle het ook ’n
beduidende bydrae gelewer tot my besluit om self die onderwys as loopbaan te
volg.”
Hy voeg by dat Hoërskool Kanonkop talle
geleenthede gebied het om homself op sport-, kultuur- en akademiese vlak te
ontwikkel.
Vandag, byna twee dekades nadat hulle saam
matriek geskryf het, staan die twee steeds langs die rugbyveld – nie meer as
skrumskakel en losskakel nie, maar as afrigters wat die volgende geslag
rugbyspelers help vorm, terwyl ’n vriendskap van meer as 20 jaar steeds
voortduur.

Comments
Post a Comment