Van Kanonkop na Amerika: Elmarie dra Swartleeus steeds in haar hart
Hoewel dit al 12 jaar is sedert oud-onderwyseres Elmarie van Dyk Hoërskool Kanonkop gegroet het om saam met haar man, Hekkie, na die Verenigde State van Amerika te emigreer, bly die skool steeds 'n besondere deel van haar lewe.
Elmarie was vanaf Januarie 2007 tot Augustus 2014 deel van die Kanonkop-familie en beskryf dié tyd as die hoogtepunt van haar onderwysloopbaan.
Sy vertel dat sy haar geleentheid by Kanonkop aan oudhoof Ben de Klerk te danke het, wat haar as 'n laerskool-wiskundeonderwyseres die kans gegee het om by die hoërskool klas te gee.
"Hoërskool Kanonkop se personeel en leerders word uit die beste hout gekerf. Dit is 'n mengsel van baie spesiale, omgee-mense wat baie vinnig diep in my en my hele gesin se harte ingekruip het."
By Kanonkop het sy Wiskunde vir graad 8 tot 10, Lewensoriëntering vir graad 10 en Rekeningkunde vir graad 9 aangebied. Sy was ook die skool se bemarker.
![]() |
| Elmarie en Hekkie van Dyk in die Grand Canyon. |
Omkeerpunt vir Kanonkop
Een van haar mooiste herinneringe is die tyd toe mnr. Martin Fourie in 2010 as hoof aangestel is.
"Die skool het destyds net 333 leerders gehad. Saam met mnr. Fourie, 'n handjievol onderwysers en 'n paar ouers het ons ongelooflik hard gewerk om die skool se beeld in Middelburg om te draai."
Sy onthou hoe uitdagend dié tyd was, maar ook hoe belonend dit was om te sien hoe die skool jaar ná jaar gegroei het.
"Ons was opgewonde oor elke klein positiewe ding wat gebeur het."
Vir haar was dit een van die belangrikste mylpale in Kanonkop se geskiedenis.
'n Skool met 'n unieke familieband
Wat Hoërskool Kanonkop volgens Elmarie besonders gemaak het, was die sterk familiegevoel wat tussen personeel, leerders en ouers bestaan het.
"Die saamstaan, saam hard werk en lekker saam kuier het die personeel uniek gemaak."
Sy sê die skool se gees, veral tydens Interhoër, was iets besonders.
"Al was Kanonkop destyds nog 'n relatief jong skool, het die tradisies en die familieband ongelooflik sterk na vore gekom."
'n Opedag wat sy nooit sal vergeet nie
As bemarker onthou sy veral die eerste opedag wat sy gereël het.
Sy vertel laggend hoe die destydse beheerliggaamvoorsitter, Willem Botha, haar heeltyd geterg het.
"Hy het gesê: 'Jy het 'n begroting, nie 'n target nie.'"
Met baie beperkte fondse, maar 'n ongelooflike span personeel, het hulle daarin geslaag om 'n uiters suksesvolle opedag aan te bied.
"Dit het die standaard baie hoog gestel vir al die opedae wat gevolg het."
Elke leerder het 'n kans gekry
Elmarie glo een van Kanonkop se grootste sterkpunte was dat elke leerder die geleentheid gekry het om deel te neem.
"Selfs wanneer daar nie genoeg leerders was nie, was almal bereid om op te staan en hul deel te doen om die skool op sport-, kultuur- en akademiese gebied te verteenwoordig."
Sy beskryf Kanonkop as "die underdog" onder Middelburg se hoërskole.
"Dit is 'n skool in Middelburg, vir Middelburg se kinders."
'n Leerder wat sy nooit sal vergeet nie
Wanneer sy terugdink aan oudleerders, glimlag sy oor Nicus Boshoff.
Sy vertel hoe hulle tydens pouse albei agter 'n rugbybal aangehardloop het.
"Nicus het letterlik my voete onder my uitgehardloop."
Sy het destyds nie besef het hoe ernstig die besering was nie. Haar rotatormanchet (rotator cuff) beskadig en moes sy eers tien jaar later, nadat sy reeds in Amerika gewoon het, 'n operasie ondergaan.
"Toemaar Nicus, ek is glad nie kwaad nie. Jy bly nog steeds een van my gunstelinge!"
'n Nuwe lewe in Amerika
Elmarie en Hekkie het einde Augustus 2014 na Pittsburgh in Pennsylvania geëmigreer.
Sy het vir 'n paar jaar by 'n laerskool skoolgehou, maar het besluit om nie in Amerikaanse hoërskole klas te gee nie.
Volgens haar verskil die onderwysstelsel hemelsbreed van Suid-Afrika.
"Skoolhou hier is 'n heel ander wêreld met al die tegnologie en finansiële hulpbronne tot 'n mens se beskikking."
Een van die vreemdste tradisies wat sy beleef het, is Senior Prank Day.
"Een jaar het die matrieks die hele skool se parkeerterrein omskep in 'n strand met seesand, opblaasswembaddens, palmbome en sambrele. Niemand kon die volgende oggend met hul motors by die skool inry nie."
Steeds trots Suid-Afrikaans
Elmarie sê hulle het 'n groot Suid-Afrikaanse vriendekring.
"Ons is soos een groot familie. Ons maak saam boerewors en biltong, ondersteun die Springbokke en braai gereeld – al lê die sneeu dik."
| 'n Paar Suid-Afrikaners saam met die Van Dyks wys wie hulle ondersteun met die rugby. |
| Elmarie saam met 'n paar Suid-Afrikaners wat 'n paar jaar gelede die halfmarathon van die Pittsburgh marathon gehardloop het. |
Kinders is lekker naby
Die grootste voorreg is dat al hul kinders naby hulle woon.
Hul oudste dogter, Maralie, wat ook 'n oudleerling van Hoërskool Kanonkop is, voltooi binnekort haar mediese studies en sal in Augustus as dokter kwalifiseer.
Elanrie, Kanonkop se hoofmeisie van 2016, is met Ruan Joubert, die skool se hoofseun van 2016, getroud. Die egpaar woon ook in Pittsburgh nadat hulle hul studies aan Tuks voltooi het.
Hul jongste dogter, Heidi, wat in graad 6 was toe die gesin geëmigreer het, voltooi volgende jaar haar studies as prokureur.
Die egpaar het ook onlangs 'n eerste kleinkind, klein Milané, ryker geword.
"Dis baie lekker om ouma te wees. Ek geniet elke oomblik daarvan. Ek kan nie wag dat sy groot genoeg is dat ons saam gholf kan speel nie."
| Elmarie en Hekkie met hul klein prinses, Milané |
| Die Van Dyk-gesin. |
| Elmarie en haar dogters, Maralie, Heidi en Elanrie met Pittsburgh in die agtergrond. |
'Moet nooit ophou droom nie'
Aan die huidige Swartleeus het Elmarie dié boodskap:
"As jy dit kan droom, kan jy dit doen. Moet nooit ophou droom nie."
En hoewel Amerika nou haar tuiste is, erken sy dat Suid-Afrika altyd 'n spesiale plek in haar hart sal hê.
"Dit is die mense wat ek die meeste mis. Suid-Afrika sal altyd deel van ons wees. Natuurlik mis ek ook ons kultuur en die lekker kos wat nie so maklik hier beskikbaar is nie."

Comments
Post a Comment